Anton Goosen

Anton Goosen

Anton Goosen | Suid Afrikaanse Kunstenaars

Anton Goosen is ‘n Suid-Afrikaanse musikant. Goosen het meer suksesvolle liedjies (treffers) agter sy naam as enige ander Suid-Afrikaanse sanger. Sy treffers sluit in Silwer de Lange, Boy van die suburbs, Byeboerwa en Simone.

In 1979 het hy die temamusiek vir die rolprent Pretoria O Pretoria! geskryf wat die oorspronklike weergawe van Kruidjie-roer-my-nie was, en sy eerste kommersieel suksesvolle opname was. Die eerste weergawe van Kruidjie-roer-my-nie is vier dae na die vrystelling daarvan verban.

Anton Goosen - Swart Water (Die Vloek Van Boontjieskraal)
Kry 'n kwotasie
Indien daar meer as een kunstenaar optree moet daar 'n klankmaatskappy ingehuur word deur die kliënt.
Indien die kliënt klank voorsien, moet dit aan die spesifikasies van die kunstenaar se tegniese vereistes voldoen.

Diskografie

Boy Van Die Suburbs -- 1979

2de Laan 58 -- 1980

Liedjieboer -- 1980

Jors Troelie -- 1981

Lappiesland -- 1985

Liedjieboer In Die Stad -- 1986

Winde Van Verandering -- 1988

Danzer -- 1992

Riviersonderend -- 21 Greatest Hits -- 1994

Bushrock -- 1996

Putonnerwater -- 1999

‘n Vis Innie Bos -- 2001

Anton en Vrinne Live in die Staatsteater -- 2003

Die Groen Blomme projek -- 2005

a. 33 A-sides (Grootste treffers) -- 2008

b. 33 B-sides (getye van verandering) -- 2008

c. 33 Sea-sides (om te rock ‘n roll)  -- 2008

a. Volledig Vol 1 -- 2014

b. Volledig Vol 2 -- 2015

c. Volledig Vol 3 -- 2016

Love Songs -- 2016

Padkos -- 2017

40 jaar Lliedjieboer Innie Langpad -- 2019

Biografie

Anton Goosen het ‘n lang pad gestap vandat hy as student per trein gereis het van Heidelberg af waar hy studeer het, na Oos-Londen om ‘n 15-minute set te doen by ‘n plaaslike verskeidenheidskonsert. 

Die jong Anton Goosen het hoofsaaklik Engelse covers gespeel.

Dit is nie bekend of enigeen in die gehoor besef het watter impak hy op die Suid-Afrikaanse musiekbedryf in die algemeen en meer spesifiek die Afrikaanse musiekbedryf gaan hê nie. Daar was sekerlik skeptici. 

Reeds in std. 9 het ‘n skoolsielkundige vir hom gesê dat daar geen toekoms vir hom in musiek is nie.

Dit was na hy op skool begin musiek speel het, sterk beinvloed deur liedjies soos Johnny B. Goode van Chuck Berry, I can’t get no (satisfaction) van die Rolling Stones en She loves you van die Beatles.

Na skool met geen onmiddellike musikale loopbaan in die vooruitsig nie het hy homself as onderwyser bekwaam en ook dan onderwys by St. Stithians gegee terwyl hy saans in kroeë speel.

Min mense weet dit maar in die tydperk bekwaam hy hom ook as Suid-Transvaalse sokkerskeidregter. 

Tydens sy termyn by St. Stithians skryf hy ‘n musiekblyspel, Jantjie, wat deur die leerlinge opgevoer word. Hy verlaat die onderwys in 1976 en begin as deeltydse resensent by die nuutgestigde Beeld werk. 

Hy gee in die tyd ook kitaarklasse en pottebakkeryklasse. Sy eerste onderhoud as beeld se musiekresensent was met die relatief onbekende Sonja Heroldt, wie se Ek verlang na jou toe pas begin het om gewildheid te verwerf.

Tydens die onderhoud noem hy aan Sonja dat hy ook liedjies skryf.

Na sy hom by sy huis besoek het en deur sy liedjieversameling geblaai het, kies sy Jantjie om te sing en word dit een van haar grootste treffers.

Dit was die begin van ‘n suksesvolle werksverhouding wat vir byna vier jaar geduur het. Hy het in die tyd byna eiehandig al die musiek vir Sonja se albums geskryf.

Waterblommetjies, Harlekyn, Hanoverstraat, Trein na Matjiesfontein, Ta’ Mossie se sakkie-sakkie boeredans en Oberammergau is net ‘n paar van die treffers waarmee Sonja Heroldt die treffersparades en toekenningsaande verower het. 

Hy skryf nie net vir Sonja nie, maar skryf ook liedjies soos Hoeka toeka vir Carike Keuzenkamp, Straattroebadoere, Vergeet om te vergeet, Neanderthalman en Atlantis vir Laurika Rauch terwyl Richard Clayderman en Francis Goya beide Waterblommetjies opneem.

In 1979 skryf hy die temamusiek vir die rolprent Pretoria o Pretoria.

Die temalied uit die rolprent, die oorspronklike weergawe van Kruidjie-roer-my-nie, word binne vier dae na uitreiking verbied. Dit begin ‘n lang reeks van SAUK inperkings vir hom. Kruidjie en die kortspeler van nuwe liefdesweergawe verkoop 40 000 eenhede.

Terloops die b-kant van die kortspeler was Waterblommetjies. Hierdie is die eerste kommersieël suksesvolle opname van Anton Goosen.

In dieselfde jaar reik hy sy eerste album uit, wat ook die eerste Afrikaanse album ooit deur ‘n sanger was wat sy eie liedjies in Afrikaans geskryf het.

Die inspirasie het gekom nadat Chris Kritzinger in sy kantoor vir Anton gesê het dat hy ‘n album moet maak; iets soos ‘n singer-songwriter soos Donovan Boy van die suburbs verkoop 80 000 eenhede -- gewis nie sleg vir iemand wat geen toekoms in musiek het nie. 

Op die album breek hy nog nuwe grond vir Afrikaans.

Blommetjie-gedenk-aan-my word algemeen beskou as die eerste rocksong in Afrikaans en die rigting wat hy hierna ingeslaan het besorg later aan hom die eretitel “Vader van Afrikaanse rock”.

Maar hy het nie net die musiek van rock na Afrikaans gebring nie. Die protes teen die status quo wat altyd onderliggend aan rock is, was ook deel van Anton Goosen se bydrae. 

Antjie Somers en Hanoverstraat is van die eerste liedjies in Afrikaans wat teen gedwonge verskuiwings geprotesteer het. Mpanzaville opgeneem deur Laurika Rauch dra sterk verwysings na die Soweto-onluste.

Die ATKV verbied hom om by hulle verhoë op te tree na hy grappies tydens ‘n crescendo-optrede in die Stadskouburg oor die nasionale vlag gemaak het.

Die verbod word later onder druk opgehef. Hy skok ook die gehoor by ‘n kulturele konsert by Unisa toe hy met ‘n rockband opdaag vir sy optrede. Sowat 300 van die 1200 mense in die gehoor loop uit tydens die drom-solo.

In samewerking met onder andere Laurika Rauch, Koos du Plessis, Jannie de Toit, Louis van Rensburg en Clarabelle van Niekerk is hy die voorloper in 1979 van die musiek en liriekbeweging.

Hy skryf onder andere 16 van die liedjies wat deur Merwede van der Merwe in die TV program gebruik word en is musiekadviseur vir die programreeks.

Met die verhoogoptredes van Musiek en Liriek begin Kruidjie-roer-my-nie op die treffersparades klim. Die skeidslyn in Afrikaanse musiek is bereik – kort op sy hakke volg David Kramer, Coenie de Villiers, Lucas Maree en Annelie van Rooyen.

Dit is al oor die tydperk gesê dat Afrikaanse musiek in twee kategoriee verdeel kan word. Dit wat voor Anton Goosen gebeur het en dit wat na Anton Goosen gebeur het.

Hy wen ook twee Saries in die tyd. Hy bou vir die meeste van die tagtigs voor op die rockgrondslag wat in die laat sewentigs gelê is. 

Uitgebreide toere deur Suid-Afrika en Namibië volg in die tagtigs en hy verkoop oor die 400 000 plate.

In 1983 doen hy die regie van Wildebeest, die eerste Afrikaanse rockalbum.

Hy vestig homself as ‘n suksesvolle vervaardiger en die talent van hom sal veral in die negetigs na vore kom toe hy die baie suksesvolle Elke boemelaar se droom produseer vir Koos Kombuis en ook die krities geloofde Om te Breyten album. 

In 1985 sluit hy ‘n platekontrak met Peter Gallo op ‘n melkbottel. Dit is die begin van ‘n verbintenis wat nou nog stewig staan. Nog twee suksesvolle albums volg: Lappiesland en Liedjieboer innie city/stad.

In die albums verken hy, wat toe pas na Gansbaailapa, sy plasie langs die Hennopsrivier getrek het, sy etniese oorsprong.

Jare hierna sou hy op die “Putonnerwater” album die song Gansbaailapa aan sy ondersteuners bekendstel.

1989 slaan hy ‘n nuwe rigting in, saam met Lukas Maree, Helena Hettema en Karlien van Niekerk stig hy die groep die Kommissie van Ondersoek -- ‘n tong in die kies verwysing na die vele kommissies wat die Nasionale Party tydens hulle bewind saamgestel het.

Die liedjie Winde van Verandering word onmiddelik deur die SAUK verban. Die liedjie loop die geskiedkundge gebeure van 2 Februarie 1990 vooruit.

Toe die SAUK snuf in die neus kry van die veranderinge wat kom, ontban hulle die liedjie en Winde van Verandering word ‘n radiotreffer.

Ook in die jaar stel hy die 19-jarige Ansie Kamfer, ‘n politiese aktivis, as sy bestuurder aan. 

Sy vertroue in haar word beloon toe sy ‘n jaar later Houtstok reël en daarin slaag om met haar eerste probeerslag 22 000 mense by ‘n Afrikaanse musiekkonsert te kry. Dit is tot op datum die grootste Afrikaanse musiekfees nog.

Die FAK se mimiekfees by die Voortrekkermonument wat daar grootliks uitheemse “Afrikaanse” liedjies gesing word en deur Marius de Plooy aangebied word, op dieselfde dag word deur slegs 15 000 mense bygewoon.

Soos met die musiek-en-liriekbeweging vantevore, bevind hy Goosen hom weereens op die lempunt van Afrikaanse musiek se ontwikkelling.

Die CD van die Houtstok-fees opgeneem deur Peter Pearlson vang die gees van die geleentheid vas. 

Tussen 1990 en 1992 werk hy aan Danzer. Hy toer ook saam met rockbands soos Jack Hammer en die Backwater Blues Band.

Die titelsnit van die Danzer album “Dancer” waar hy en Lucky Dube saamsing haal gelyktydig die nommer een posisie op die 5 FM treffersparade asook Radio Metro.

Daarmee is hy die eerste Afrikaanse sanger wat die nommer 1 posisie op 5FM behaal. 

Nie net was die album ‘n kommersiële sukses nie, kritici was ook gaande daaroor. Insig noem die album die beste ooit in Suid-Afrikaanse musiek.

Gedurende die res van die negentigs reik hy nog ‘n nuwe album, Bushrock uit. Hy werk saam met Gito Baloi van Tananas, Isaac Mstali van Stimela, Kenny Mataba, en skep ‘n unieke Afrikaanse marimbaklank met vermengings van kulturele style.

Riviersonderend en Putonnerwater -- twee versameling albums word ook in die tyd uitgereik. Maar met enkele nuwe werk soos Die Seewater is blou en sy toonsetting van Ingrid Jonker se Hemel vol blou Akkers.

In die laat negentigs neem hy tyd om homself te herontdek. Hy bou sy huis klaar en reis deur Afrika.

1999 begin hy weer met lewendige optredes.

Sy gehoor bestaan nou ook uit lede van ‘n nuwe geslag wat nog kinders was toe hy op die toneel verskyn het. Heelwat van hulle was nog nie eers gebore toe hy Boy van die suburbs uitgereik het nie.

Sy se musiek word nou ook ‘n brug tussen die generasies. Ouderdom maak hom nie minder beginselvas nie.

In 1999 weier hy om ‘n prys van die ATKV te ontvang omdat hulle ook mense beloon wie se werk hoofsaaklik uit vertaalde Engelse liedjies bestaan. Hy voer die stryd teen vertalings en die mense wat op verhoë verskyn met backtracks. 

Gedurende 2002 word die stryd tot ‘n punt gedryf met die backtracks brigade onder leiding van Steve Hofmeyr wat hom takel op hoofsaaklik Litnet, maar later ook in die koerante. Die bloedneus wat Steve Hofmeyr op Litnet kry laat hom ‘n vendetta begin teen Anton Goosen.

Anton ignoreer hom, maar verskyn darem by KKNK 2003 in ‘n t-hemp wat met Hofmeyr die draak steek.

Vis in die bos wen in 2002 vir hom ‘n SAMA vir beste album. 

Die album word deur kritici beskryf as die eerste suksesvolle world music album in Afrikaans. Hy breek weereens nuwe grond vir Afrikaans.

Sy bydrae tot Afrikaans word deur die letterkundige Gerrit Komrij erken toe sy lirieke in ‘n poësieversamelbundel ingesluit word.

Hy is ook die vervaardiger van die Om te Breyten album wat in 2001 ‘n SAMA wen vir Beste Afrikaanse album. Op die album is die gedigte van breyten breytenbach deur verskeie Afrikaanse kunstenaars getoonset.

2002 ontvang hy ‘n Geraas toekenning vir sy lewenslange bydrae tot Afrikaanse musiek asook vir die Breytren-projek..

Hy is veral bekend daarvoor dat hy verskeie jong kunstenaars help om hul eie paaie te bou. Daarvan getuig die reeks Anton en Vrinne shows wat hy op kunstefeeste aanbied. 

Die idee vir Anton en Vrinne word gebore by die Volksjol tydens die Volksbladfees toe Valiant Swart en Karen Zoid by hom en Beeskraal op die verhoog aansluit vir ‘n allermintige jam.

Dit lei tot vele Anton en Vrinne optredes dwarsoor die land en ook tot ‘n vier uurlange optrede in die staatsteater met sy bushrockband en verskeie vrinne.

Onder andere wyle Gito Baloi (Tananas), Sonja Herholdt, Ollie Viljoen, Disselblom, Gian Groen, Andre Swiegers, Alta Joubert, Charlie Smith van Beeskraal, Steaan van der Walt, Dozi, Theuns Jordaan. ‘n Suksesvolle DVD-opname en 2x cd van die show word uitgereik in 2003.

By die Huisgenootskouspel word hy vereer vir sy bydrae tot Afrikaanse musiek met die toekenning vir Lewenslange bydrae tot musiek en hy is word ingehuldig in die Suid-Afrikaanse rock digest Hall of Fame.

Sy se tweede liriekbundel het ook die lig gesien in 2005. In die bundel, Hitte van die teerpad -- Songs van die Liedjieboer, kyk hy terug oor sy loopbaan met sy lirieke, staaltjies en verhale, maar hy laat ook nie op hom wag nie. 

2005 was ook ‘n jaar van vernuwing vir hom met sy album Groen Blomme waarop hy met verskeie jong kunstenaars kragte saam smee.

Hierdie album word kort na die opvolgende nuwe jaar uitgereik en word met ope arms ontvang.

Groen Blomme in die titel verwys na die jong talentvolle kunstenaars wat saam met hom aan die album gewerk het. Onder andere Klopjag, Gian Groen en Lienka.

Die pad is lank maar hy is nog nie klaar geloop nie. Sy pad loop ook nie net deur Afrika nie, maar daar is reeds verskeie suksesvolle Europese shows agter die blad.

Sy pad loop ook nie alleen nie, maar loop saam met baie ander en diverse kunstenaars.

Vanaf 2002 tot 2008 doen hy en sy Bushrockband eenmaal ‘n jaar shows in die UK en in 2007 ook in België en Nederland.

2007 verhuis hy na die Kaap en vestig hom in Gansbaai. Dit nadat hy die slagoffer van ‘n gewapende rooftog op sy plaas aan die Hennopsrivier was.

2008 reik Anton en Steve Hofmeyr mekaar die hand met die Brugboukonsert en is sedertdien goeie vriende.

In 2008 reik hy 3 dubbel cd’s uit om sy 33 jaar in die bedryf te vier.

33 A-sides (liedjieboer-treffers) 33 b-sides (getye van verandering) en 33 Sea-sides (om te rock en roll).

2009 verskyn twee musiekboeke van hom. Liedjieboer Boek 1 en 2 met 38 van sy werke. Hy doen ook vir 4 jaar sy eie musiekprogram op Whale Coast FM: “Pampoene oppie dak”

Meimaand 2009 ontvang hy en Yvonne Chaka Chaka elk ‘n SAMA-toekenning vir hul lewenslange bydraes tot Suid-Afrikaanse musiek.

2009 word hy saam met Coenie de Villiers en David Kramer vereer met ‘n eeufeesmedalje deur die Akademie vir kuns en wetenskap vir hul onderskeie bydraes tot Afrikaanse musiek.

2010 ontvang hy ‘n ATKV toekenning vir sy bydra as liedjieskrywer.

2011 ontvang hy ‘n goue Voortrekker erepenning vir uitstaande jeugdiens.

2012 vervaardig en bied hy ‘n baie suksesvolle musiekreeks, Liedjieboer-rumoer vir RSG aan.

Die Univertsiteit nader hom om sy manuskripte, uitknipsels en werk van oor die jare in hul argief te bewaar vir studente vir nagraadse studies.

Sy bydra tot Afrikaanse musiek word verteenwoordig deur die 19 Liedjies wat in die FAK Sangbundel 2 opgeneem is.

Dit begrawe die strydbyl tussen hom en instansies wat uitheemse musiek aangemoedig het.

Die nuwe FAK bundel grootliks uit inheemse oorpronklike Afrikaanse musiek bestaan.

Dus word hy genooi om by die bekendstelling by die gala-opening by die Voortrekker monument op te tree.

Hy doen verskeie optrede oor die land, akoesties solo en of met sy bushrockband.

Suid Afrikaanse Kunstenaars

Blue Division
On Stage logo
Musiekhuis