Neil Somers

Neil Somers

Neil Somers | Suid Afrikaanse Kunstenaars

Neil Somers is ‘n Suid-Afrikaanse sanger en liedjieskrywer. Sy diep stem is die perfekte pasmaat vir elke sielvolle liriek.

Neil Somers - Silwer Kombers
Neil Somers - Bloedgrond
Kry 'n kwotasie
Indien daar meer as een kunstenaar optree moet daar 'n klankmaatskappy ingehuur word deur die kliënt.
Indien die kliënt klank voorsien, moet dit aan die spesifikasies van die kunstenaar se tegniese vereistes voldoen.

Diskografie

Anderkant Atlantis -- 2009

Hierdie Hande -- 2015

Biografie

Neil Somers is ‘n Suid Afrikaanse sanger en liedjieskrywer. 

Ses jaar na sy eerste CD, is Neil Somers terug met ’n splinternuwe album. Hierdie Hande, wat beslis gaan opslae maak in die musiekwêreld.

Sy diep stem is die perfekte pasmaat vir elke sielvolle liriek… en die eindresultaat is hoendervleismooi.

Neil Somers, met sy strelende fluweelstem, het beslis geen bekendstelling nodig in musiekkringe nie. 

Oor die afgelope paar jaar is van sy werk met TEMPO-benoemings vereer. Treffers soos Anderkant Atlantis en Sinnelose Lente is ook vriendelik deur radiostasies en die publiek ontvang.

Wanneer jy die nuwe album luister kan jy duidelik die sorg en moeite hoor wat die afgelope twee jaar aan die beplanning en verwerking van Hierdie Hande bestee is. 

Dit spog met dertien oorspronklike snitte en is die perfekte kombinasie tussen roerende hartsmusiek en lighartige kuiermusiek.

Eendag op ’n Reëndag, die nuwe enkelsnit wat pas vrygestel is, is ook reeds ’n gunsteling onder luisteraars regoor die land.

Neil beskou dié CD as die hoogtepunt van sy loopbaan. Hy beskryf dit as ’n Afrikaanse Komtemporêre Folk Rock-album, met ’n bietjie Pop hier en daar.

“Alles wat voorheen gebeur het, was net om my voor te berei vir die hier en nou.

Hierdie is sover die grootste oomblik van my loopbaan en die musiek wat ek vir hierdie album gekies het, is my beste,” sê hy.

Neil is ʼn gebore musikant en is vandat hy kan onthou versot op sing.

“Musiek is al deel van my lewe vandat ek kon praat en was nog altyd in my bloed. My musikaliteit kom van my pa se kant af. Hy is passievol oor musiek en speel kitaar, baskitaar en was ook al lid van verskeie orkeste. 

My pa het my ook die basiese beginsels geleer van kitaarspeel, waarna ek dit self verder op gehoor bemeester het. Vandag speel ek ook akoestiese kitaar en die bekfluitjie.”

Alhoewel hy sy hele lewe lank doenig was met aktiwiteite. Soos revue, Universiteite Sêr en selfs lid was van die Hoëveld Kinderkoor, het hy eers in 2003 begin naam maak. Toe sy ma hom ingeskryf het vir ’n sangkompetisie in Jeffreysbaai. 

Hy het die kompetisie gewen en toe finaal besef dat sy toekoms in musiek lê. Nie in Siviele Ingenieurswese, wat hy op daardie stadium besig was om te studeer nie. Hy het toe sy studies gestaak, as kroegman begin werk, en in restaurante begin optree.

Sy paaie het met die liedjieskrywer, Kobus Bezuidenhout, laat kruis wat later die hoof-liriekeskrywer sou word van sy debuutalbum.

Omdat hy graag meer ondervinding in die musiekbedryf wou hê, het hy Pretoria toe getrek. Daar het hy in verskeie klubs, kroeë en restaurante gesing. Totdat hy in 2007 genooi is om by die Klein Karoo Nasionale Kunstefees op te tree. 

Daar het Adam Tas een van sy liedjies gehoor en wou dit graag self opneem, wat weer later vir Neil gehelp het om sy eerste platekontrak los te slaan.

Sedertdien het hy al die verhoog gedeel met van die land se grootste kunstenaars soos Koos Kombuis, Dozi, Theuns Jordaan, Robbie Wessels, Bok van Blerk, Lianie May, Hugo, Kurt Darren en vele meer en kon hy dit regkry om die harte van gehore regoor die land te verower.

As jy uitvis oor die man agter die mooi stem, verklap hy dat hy ’n reguit mens is wat ’n ding sê soos hy is en nie hou van aansitterigheid nie. 

Hy beskou kunstenaars, wat al lank in die bedryf is en suksesvol bly, as ’n inspirasie en het veral waardering vir sangers soos Riana Nel, Elvis Blue en Theuns Jordaan se musiek. 

“Ek hou van enige musiek of liedjie wat my oor vang, hetsy dit die lirieke of sommer net die wysie is.

Enige soort musiek moet jou kan inspireer, maar ek het ’n baie sagte plek vir ’n goeie Country-liedjie -- veral die ouer classics soos Don Williams, Johnny Cash en Kris Kristofferson want hulle treffers vertel stories,” sê hy.

As hy nie ’n sanger was nie, sou hy graag ’n sielkundige wou word, sodat hy almal kan help om hulle hartsake en probleme uit te sorteer.

Maar vir nou verower hierdie talentvolle sanger eers die harte van die publiek, media en sy mede-kunstenaars met sy unieke talent, wat nie net strelend is op die oor nie, maar ook trefkrag het in die siel.

Suid Afrikaanse Kunstenaars

Blue Division
On Stage logo
Musiekhuis