Rina Hugo

Rina Hugo

Rina Hugo | Suid Afrikaanse Kunstenaars

Rina Hugo is ‘n Suid Afrikaanse sangeres. Sommige mag dit lees as ‘n suksesverhaal.

Vir Rina self lees haar lewensverhaal as een van ‘n ontembare liefde vir musiek, gekombineerd met die meetsnoere van die lewe wat in die regte plekke geval het.

Rina Hugo - genade lied
Rina Hugo en YOMA - Al Lê Die Berge Nog So Blou
Kry 'n kwotasie
Indien daar meer as een kunstenaar optree moet daar 'n klankmaatskappy ingehuur word deur die kliënt.
Indien die kliënt klank voorsien, moet dit aan die spesifikasies van die kunstenaar se tegniese vereistes voldoen.

Diskografie

Sy Naam Is Jesus – 2017

Ek Sing Vir Hom – 2010

Onthou – 2009 

In Harmonie, met Manuel Escórcio – 2008 

Afrikaanse Goue Stemme – 2008 

Die Nuwe Jerusalem – 2007 

Die Duet Album, met Jannie Moolman – 2006 

Centurion Konsert DVD – 2006 

Net ´n Stille Uurtjie – 2005 

Rina en Gé Boks – 2005 

Jerusalem! / Hoe Groot Is U – 2005 

My Treffers – 2004 

Your Favourite Songs – 2003 

Give Me Time – 2002 

Music In The Mountains, met die Drakenbergse Seunskoor – 2000 

Treffers 1983–1995 – 1996

Je T´Aime Mon Amour – 1995 

Wat ´n Vriend Het Ons In Jesus – 1994 

Rina en Gé – 1993 

Ek Mis Jou Vanaand – 1992 

Rina Se Treffers – 1992

Jerusalem! – 1992 

Elke Dag Van Die Res Van My Lewe LP – 1991 

Hoor Jy My Stem Oor Die See? – 1988 

Grootste Treffers LP – 1987 

Los My Alleen LP – 1987 

Rina LP – 1985 

Kom Huistoe / Bly Naby My – 1987 

Rina Hugo LP – 1983

Biografie

Rina Hugo is ‘n Suid Afrikaanse sangeres. Sommige mag dit lees as ‘n suksesverhaal. Vir Rina self lees haar lewensverhaal as een van ‘n ontembare liefde vir musiek, gekombineerd met die meetsnoere van die lewe wat in die regte plekke geval het.

Rina is in Umtata gebore en verhuis later na Springs aan die Oos-Rand. Ma Fienie het Rina se talent eerste raakgesien. Die enigste meisiekind sing orals in die huis, speel kamma-klavier op die sitkamer koffietafel.

Sang en musiekklasse volg en ‘n stem ontwikkel wat baie mense laat regop sit. Sy matrikuleer aan die Hoër meisieskool Hugenote waar sy ook as onderhoofmeisie gekies word.

Sy gaan na die Potchefstroomse Universiteit om haarself as musiekonderwyseres te bekwaam.. Die liefde tree ook tussenbeide. Mede-student Johan van Rensburg, self musiekstudent en leier van die Alabama Studentegeselskap, raak verlief op Rina, praat haar om om ook deel te vorm van die groep.

Rina maak kennis met die sing van die ligte liedjie en doen dit ewe goed. Sy verwerf haar B.Mus graad aan die Potchefstroomse Universiteit aan die einde van 1970.

Sy en Johan trou 27 Maart 1971. Rina sien vir alles kans – Die huwelik, ligte liedjies, klassieke sang en alles wat daarmee gepaard gaan. Johan word musiekdosent by die Universiteit se konservatorium, Rina musiekonderwyseres by die Hoërskool Gimnasium op Potchefstroom..

In 1973 ontvang Johan ‘n beurs om sy musiek-studies aan die Berklee College Of Music, in Boston, in die VSA te gaan voortsit.

In 1975 behaal Rina haar Meestersgraad in Sang aan die New England Conservatory of Music in Boston. Terug op Suid-Afrikaanse bodem begin ‘n sangloopbaan wat spreek van voortreflike veelsydigheid.

In 1978 word sy aangewys as Suid-Afrika se algehele wenner van die gesogte ATKV-Crescendo-kompetisie. Kort hierna verteenwoordig sy Suid-Afrika in die Agste Internasionale Sangkompetisie in Rio De Janeiro.

Rina Hugo is telkens in haar loopbaan as een van die mees veelsydigste sangeresse beskryf.

Die gebied waarop sy haarself met ondeskeiding handhaaf, oorspan feitlik alle genres wat deur ‘n solis beoefen kan word naamlik. Opera, oratorium, operette, musiekblyspele, die kunslied en ligte musiek.

In haar suksesvolle loopbaan is haar plate en CD’s talle kere met met goue en platinum status bekroon, het sy talle eerbewyse ontvang en belangrike musiekpryse gewen.

Sy is ook telkens as die gewildste sangeres in die land aangewys en het al opgetree in feitlik alle TV-Musiekprogramme wat op die lug was.

Onder haar TV opnames tel ook twee spesiale dokumentêre programme met die titel “Die Lied Wat Suiwer Klink” wat in 1998 as ‘n huldeblyk aan haar uitnemendheid en veelsydigheid as sangeres op SAUK-TV uitgesaai is.

In die jare tagtig is sy een van die eerste Afrikaanse kunstenaars wat twee vertonings lewer voor volgepakte gehore by Sun City.

Sy vertolk rolle in o.a Die Towerfluit, Falstaff, Die Huwelik Van Figaro, The Sound Of Music en The Student Prince. Sy verteenwoordig Suid-Afrika twee keer op die Vlaamse Nasionale Sangfees in België. ‘n Helder pienk roossoort is na haar vernoem.

Rina & Johan het 2 kinders Riaan & Anri. Riaan het reeds op 4 jarige ouderdom op TV verskyn waar hy die tromme gespeel het. Nadat hy sy musiekstudies voltooi het, word hy vryskut musikant.

Hy het ‘n besondere belangstelling in Afrika ritmes en instrumente en het ook verder hierin in Ghana studeer.

Anri het vroeg reeds besluit dat sy modelwerk wil doen en het na matriek vir ‘n paar jaar oorsee gewerk.

Gedurende 2002 het sy haar belangstelling in grafiese ontwerp verder geneem en haar eie besigheid begin by name “Dream out Loud”. Sy geniet dit baie en doen modelwerk nou net as ‘n stokperdjie.

So kan ‘n mens aanhou en aanhou oor al die welslae van Rina … of jy kan alles kortweg opsom, waar haar stem opklink, daar begin die ‘magic’.

Suid Afrikaanse Kunstenaars

Blue Division
On Stage logo
Musiekhuis