Sonja Herholdt

Sonja Herholdt

Sonja Herholdt | Suid Afrikaanse Kunstenaars

Sonja Herholdt is ‘n Suid Afrikaanse sangeres en aktrise. Sy het bekend geword vir liedjies soos Ek verlang na jou, Harlekyn, Waterblommetjies, Skipskop en Jantjie.

Sonja Herholdt & Simeon - Ons vlieg saam
Perels - Sonja Herholdt
Kry 'n kwotasie
Indien daar meer as een kunstenaar optree moet daar 'n klankmaatskappy ingehuur word deur die kliënt.
Indien die kliënt klank voorsien, moet dit aan die spesifikasies van die kunstenaar se tegniese vereistes voldoen.

Diskografie

Sonja – 1976

Sonja Herholdt – 1977

Waterblommetjies – 1978

On stage/in die kalklig – 1978

Harlekyn – 1979

‘n Lied vir kersfees – 1979

Waarom daarom – 1981

Grootste treffers – 1980

Reflections – 1982

Ons eie Sonja Herholdt – 1983

Liefdeslig – 1984

Lofsang – Sonja Herholdt en Jan de Wet – 1985

Sonja Herholdt sing die jeugbundel -1987

Dis net vir jou – 1987

Tuiskoms – 1988

Sonja sing die jeugbundel no. 2 – 1988

The warrior is a child – 1989

Die klokkespel “vrede” – 1989

Gunsteling treffers – 1992

Sê die engele moet na my kyk – 1994

Skipskop – 1996

20 Gewildste Treffers – 1999

Reconstructing Alice – 2000

Sonjare – 2002

‘n Ritsel innie rietbos – 2003

Pêrels – 2010

Môre sal die son weer skyn – 2014

Die Legendes Van Afrikaanse Musiek – 2018

Biografie

Sonja Herholdt is ‘n Suid Afrikaanse sangeres en aktrise. Sy het bekend geword vir liedjies soos Ek verlang na jou, Harlekyn, Waterblommetjies, Skipskop en Jantjie.

Sonja Herholdt is op 1 Desember 1952 in Nigel gebore. Haar eerste kennismaking met die verhoog was reeds op die ouderdom van drie jaar in die plaaslike ontspanningsaal, met die liedjie ‘Slaap my Kindjie’. Haar ma, wat ‘n sangonderwyseres was, het haar begelei.

Sy was hoofmeisie van die Laerskool Tienie Vorster in Nigel en later hoofmeisie van die Hoërskool John Voster. Ere-kleure vir akademiese- en dramaprestasies is aan haar toegeken.

Ek Verlang na Jou

Sonja het aan die Goudstadse Onderwyskollege studeer waar sy haar onderwysdiploma cum laude behaal het en die Voortrekker Perstrofee as Student van die Jaar in haar finale jaar verower. 

Sy ontmoet ‘n dosent by die nabygeleë kunskollege, FC Hamman, gedurende haar studies en ‘n verhouding ontstaan. Hy doen vryskut rolprentwerk en is vir ses weke in die Kalahari saam met Gordon Vorster vir die rolprent Sarah.

In dié tyd hoor Sonja die liedjie ‘Ek verlang na Jou’ by ‘n KJV kamp. Met FC se terugkeer sing Sonja dit vir hom en hy besluit om dit te verwerk vir die rolprent. Daarna neem Sonja die liedjie op. By vrystelling word dit ‘n fenomeen en sy begin haar suksesvolle sangloopbaan.

Sing vir die Harlekyn

Sonja ontvang ook die Papillon Rising Star Award as een van die agt top vroue in Suid-Afrika wat groot sukses behaal – elk op hul eie gebied.

In 1979 verskyn sy op die plaaslike silwerdoek in ‘Sing vir die Harlekyn’. Sy ontvang in 1980 die Rapport Oscar as Beste Nuweling Aktrise.

Ook in 1980 vertolk Sonja die rol van Aspoestertjie in NARUK se aanbieding van die musiekblyspel Cinderella, ‘n pantomime met Tobie Cronjé as een van haar lelike susters!

SARIE-Toekenning

In 1975 word sy bekroon met ‘n SARIE-toekenning (South African Recording Industry) as Beste Sangeres. Dit is die eerste keer dat ‘n nuweling dié SARIE-toekenning ontvang. 

Meer as 25 000 solussewe plate van dié treffer word verkoop en dit besorg aan Sonja haar eerste goue plaattoekenning. ‘Ek verlang na Jou’ oorheers al die noemenswaardige trefferparades van die dag.

In Januarie 1976 tree Sonja en F.C. in die huwelik en later daardie jaar word haar eerste langspeelplaat ‘Sonja’ uitgereik. Vir dié langspeler ontvang sy die SARIE-toekenning vir Beste Langspeler van die Jaar en ook ‘n tweede SARIE in die kategorie Beste Sangeres.

1977 val die eer om aangewys te word as die Beste Sangeres haar weer te beurt met haar tweede langspeler ‘Sonja Herholdt’.

In 1978 ontvang sy vir die vierde agtereenvolgende jaar die SARIE-toekenning as Beste Sangeres vir haar solosewe ‘Die Trein na Matjiesfontein’. 

1979 is sy weereens aangewys is as Suid-Afrika se gewildste sangeres.

Die onmoontlike gebeur die volgende jaar wanneer Sonja vir die sesde keer met die gesogte SARIE-toekenning wegstap in die kategorie Gewildste Sangeres. 

Hiermee verdien sy vir haarself ‘n ereplek in die geskiedenis van Afrikaanse musiek deurdat sy die enigste sangeres is wat ses keer na mekaar die SARIE-toekenning inpalm vir dieselfde kategorie. 

Haar sukses word dubbel en dwars bekroon deurdat haar langspeler ‘Harlekyn’ aangewys word as Langspeler van die Jaar. 

Sy ontrek haar aan die SARIE-toekennings van die volgende jaar a.g.v. die hewige kritiek in die pers omdat sy vir soveel jare die kategorie Beste Sangeres gedomineer het. Sy verower altesaam agt SARIE-toekennings.

Internasionale Toekenning

Sonja is die eerste Suid-Afrikaanse sangeres wat genooi word om in Hilversum, Nederland, televisie-opnames te maak vir die Nederlandse Televisiediens. Terwyl sy daar is neem sy ‘Oberammergau’ in Hollands op. 

Die plaat is daar vrygestel en dit haal die Hollandse treffersparade. Sy tree ook in België op waar ‘Oberammergau’ die vyfde plek op die Brusselse treffersparade behaal.

Gospel

In 1989 word Sonja genooi om tydens ‘n Gebedsontbyt van die National Religious Broadcasting Corporation in Washington op te tree. 

Dié optrede, wat saam met die uitreiking van haar Gospel plaat ‘The Warrior is a Child’ plaasvind, is op televisie uitgesaai. Sonja tree as enigste gaskunstenaar op vir meer as ‘n halfuur voor o.a. die vise-president van Amerika.

Gedurende die jare 1982 en 1991 is Sonja en FC se 4 kinders gebore. Claudia (1982), Simeon (1985), Jesse (1987) en Timothy (1991).

In 1991 ontvang Sonja ‘n Erkentlikheids-toekenning van die Afrikaanse Sakekamer van Pretoria vir haar uitsonderlike en ongeëwenaarde bydrae tot die bevordering en uitbouing van ligte Afrikaanse musiek.

1994 vier sy haar 20ste jaar in die musiekbedryf met die album ”n Ster Vanaand’.

1995 teken sy ‘n kontrak met BMG-Records en in 1996 met Maranatha Records vir ‘n geestelike album, ‘More sal die Son weer Skyn’. 

‘Skipskop’ is ‘n kompilasie-album van BMG wat in dié tyd baie goed verkoop as gevolg van die treffer titelsnit. 

Met al haar verantwoordelikhede en optredes naweke, kom haar lewe tot stilstand wanneer sy in ‘n ernstige motorongeluk is en haar forseer om haar lewe in oënskou te neem.

Op 26 Junie 1996 skei sy van FC na ‘n huwelik van 21 jaar en betree weer die verhoog en die musiekbedryf.

In 1998 verskyn ‘Ritsel in die Rietbos’ met Anton Goosen as produksieleier.

Tydens 1999 en 2000 werk sy saam met die produksieleiers en liedjieskrywers Carel Cronje en Cornell Boshoff aan haar album ‘Reconstructing Alice’.

‘n Baie persoonlike album waarin sy vir die eerste keer kan sing oor haar ervaringe van die lewe.

Seker die grootste uitdaging wat sy nog aangedurf het en daarmee het sy haar 25 jaar in die musiekbedryf gevier.

Die pers is gaande oor Sonja se nuwe rigting, maar die plattelandse publiek byt swaar aan die verandering. 

Tog genereer sy ‘n nuwe mark wat die inhoud en betekenis van haar album waardeer en verstaan.

Daarna finansier sy self ‘n album wat deur haar eie platemaatskappy ‘Son Musiek’ vrygestel word.

‘Sonjare’ is ‘n nostalgiese maar byderwets herverwerkte album van al haar ou treffers wat steeds baie goed verkoop.

Gedurende 2006 werk Sonja saam met haar vriend en liedjieskrywer Carel Cronjé aan haar biografie.

In April 2007 publiseer Sonja self haar biografie. SONJA meisie van Nigel, en stel dit gedurende April van dieselfde jaar in Kaapstad aan die media en publiek bekend.

Meisie van Nigel is ‘n baie eerlike en openhartige biografie, en bereik binne vier maande topverkoper-status.

Sonja ontvang oorweldige goeie terugvoer op haar lewensverhaal, met weereens, veral vroue wat met haar storie identifiseer.

‘n Voetpad na Vrouwees

In die middel van 2007 verander Sonja aan die inhoud en musiek van haar “How to Shine like the woman you are” program en noem die nuwe weergawe “‘n Voetpad na Vrouwees”. 

Teen die einde van 2007 maak sy ‘n DVD opname van haar “Voetpad na Vrouwees” motiverings-program. En stel dit gedurende April 2008 bekend. 

Terselfdetyd stel Sonja ook ‘n nuwe CD “She” bekend. Wat meestal bestaan uit die musiek wat sy in haar “Voetpad na Vrouwees” progrm gebruik. 

Op die omslag van haar “She” CD skryf sy die volgende.

“Hierdie opnames is baie meer as net die musikale klankbaan van motiveringsprogram, ‘n Voetpad na Vrouwees.

Dis liedjies wat ek spesiaal gekies het as die klankbaan van my lewe – dalk werk hulle vir jou ook.”

In 2010 stel Sonja haar eerste kommersiële album in 10 jaar “Pêrels” bekend. Meer as 20 000 CD’s word verkoop en dit besorg aan Sonja weer ‘n goue plaattoekenning. 

In dieselfde jaar word Sonja vereer met ‘n lewenslange bydrae toekenning by beide Huisgenoot Skouspel en die Vonk Afrikaanse musiektoekennings.

Terwyl Sonja steeds fokus op haar motiveringsprogramme werk sy in 2012 ook aan ‘n kinder CD en DVD. “Sonja en Tjokker sing kinderliedjies”. 

Hierdie album en DVD word aan die begin van 2013 vrygestel en word in 2014 opgevolg met ‘n geestelike kinderalbum en DVD.

Sonja is tans hard aan die werk dwarsoor Suid Afrika om dmv die kunste geleenthede te skep. Waar vroue (en mans) kan groei tot hulle volle potensiaal en kan luister na ‘n boodskap van hoop.

Suid Afrikaanse Kunstenaars

Blue Division
On Stage logo
Musiekhuis