Richard van der Westhuizen

Richard van der Westhuizen

Richard van der Westhuizen | Suid Afrikaanse Kunstenaars

Richard van der Westhuizen is ‘n Suid-Afrikaanse sanger, akteur en liedjieskrywer.

In ‘n loopbaan wat strek oor sowat dertig jaar, is hy wyd betrokke by die verhoog, musiekteater, radio, oorklanking, televisie, films en musiek.

Gerhard Steyn en Richard van der Westhuizen - Tussen Treine
Richard van der Westhuizen - Isabella
Kry 'n kwotasie
Indien daar meer as een kunstenaar optree moet daar ‘n klankmaatskappy ingehuur word deur die kliënt.
Indien die kliënt klank voorsien, moet dit aan die spesifikasies van die kunstenaar se tegniese vereistes voldoen.

Diskografie

Vuurklip -- 1998

Tussen Treine -- 1999

Tydloos -- 2011

Songs Uit My Binnesak -- 2013

Swerwerspoor -- 2013

Ballade Vir ‘N Enkeling (En Die Jare Daarna) -- 2015

Biografie

Richard van der Westhuizen is ‘n Suid Afrikaanse sanger, akteur en liedjieskrywer. 

Richard is gebore in 1953 in Nababeep, Namakwaland. Na sy laerskooljare in Nababeep, voltooi hy hoërskool aan St. Joseph’s College in Rondebosch. 

Hy behaal die graad B.Sc (Boukunde) aan die Universiteit van Pretoria. Hy werk ‘n ruk lank vir ‘n boekie in Pretoria, voordat hy hom vestig as die kroegman van die O’okiep Hotel vir sowat ‘n jaar. Daarna begin hy met toneel.

In ‘n loopbaan wat strek oor sowat dertig jaar, is hy wyd betrokke by die verhoog, musiekteater, radio, oorklanking, televisie, films en musiek.

Die van Aardes van Grootoor deur Pieter-Dirk Uys, 1979, Markteater, Johannesburg. As jong akteur spits hy hom toe op die teater, en kry sy eerste hoofrol as Tertius van Aarde in bg. stuk, ‘n treffer op die Johannesburgse verhoog, onder regie van Pieter-Dirk Uys.

Die Staatsgetuie, deur Agatha Christie, 1979, Windhoek Teater.

Hy speel die hoofrol, Leonard Vole, teenoor o.a. Mees Xteen. onder die regie van Aldo Behrens.

Plaston DNS-kind, deur P.G. du Plessis, 1981, Stadskouburg, Bloemfontein. Hy speel die naamrol teenoor gesoute spelers soos Siegfried Mynhardt en Louw Verwey onder die regie van Cobus Rossouw.

Die Goue Kring, deur Uys Krige, 1982, Stadskouburg, Bloemfontein. Hierin speel hy die blinde kitaarspeler, Luis, teenoor Anna Neethling-Pohl en Louw Verwey, onder regie van Sandra Kotze.

Die Potlooddief en die Engel deur Ampie van Straten, 1985, Staatsteater, Pretoria. Richard speel die hoofrol hierin teenoor spelers soos Trudie Taljaard, Woutrine Theron, Ben Kruger en Frantz Dobrowsky. Hy word genomineer vir die DALRO beste akteur toekenning daarvoor. Regie deur Louis van Niekerk.

The Time of the Hyena, deur Mitzi Booysen, 1986, Windybrowteater, Johannesburg. Hier werk hy saam met Grethe Fox, Elize Cawood, Pierre Knoesen e.a., onder die regie van Tjaart Potgieter, in die eerste formele stuk wat opgevoer word in die nuwe teater.

Hamlet, deur William Shakespeare, 1987, Staatsteater, Pretoria.

Hy speel Laertes teenoor Marius Weyers se Hamlet en Sandra Prinsloo se Ophelia, onder regie van Francois Swart.

Panorama, deur Pieter-Dirk Uys, 1987, Grahamstadfees. Saam met Susan Coetzer en Thoko Ntshinga word ‘n nuwe stuk van Pieter-Dirk Uys onder leiding van Lynne Maree opgevoer. Dit wen die prys as die beste stuk op die “fringe”.

Minnaar onder die Wapen (Arms and the Man), deur George Bernard Shaw, 1987, Windhoekteater.

Hy speel die hoofrol hierin teenoor o.a. Michelle Botes, Mees Xteen en Antoinette Kellermann, onder spelleiding van Francois Swart.

Die Laaste Strooi, saamgestel deur Ilse van Hemert uit die werke van C.J. Langenhoven, 1998, 1999, Klein Karoo Nasionale Kunstefees, Aardklop Kunstefees, Durban, Bloemfontein, Pretoria, Stellenbosch.

Hierin werk hy saam met Anna-Mart van der Merwe, Cobus Rossouw, Chris van Niekerk en Pieter Brand, en kry ‘n VITA toekenning vir die beste ondersteunende akteur.

“1945”, deur Chris Barnard, 1983, vervaardig deur Sonneblom Films onder regie van Nic de Jager.

Sy eerste televisierol teenoor Gavin van den Berg, Pierre Knoesen, Eric Nobbs, Roelien Spruyt e.a..

Die Meisie van Suidwes, 1984, vervaardig deur Elmo de Witt films, regie, Reghardt van den Bergh. Hy speel die manlike hoofrol teenoor Pamela Gien, Arnold Vosloo, Pierre Knoesen, Elzabe Zietsman e.a.

Die Mannheim Sage, deur Lerina Erasmus, 1986, regie: Koos Roets. Hier speel hy saam met Sandra Prinsloo en Hans Strydom die hoofrolle in die stuk wat die 100 jarige bestaan van Johannesburg herdenk.

Agter Elke Man, deur Franz Marx, 1988, regie: Franz Marx en Laurence Lurie. Richard speel die rol van ‘n dronk prokureur in die gewilde reeks. Hy ontmoet vir die eerste keer ‘n jong speler/sanger, ene Steve Hofmeyr, op stel.

Ballade vir ‘n Enkeling, deur Leon van Nierop, 1991, vervaardig deur die SAUK onder regie van Henry Milne. Hy speel die befoeterde tydskrifredakteur, Wynand Malan in die gewilde reeks saam met Gavin van den Bergh, Karin Fourie, Babs Laker, Cobus Rossouw, e.a..

Death in the Family, 1994, vervaardig deur Waterfront productions onder regie van Annie Basson.

Saam met Marius Weyers, Joanie Combrinck, Brian O’Shaughnessy e.a.. speel hy in die sterk engelse dramareeks wat handel oor gesinsmoord.

Honeytown I & II,1995,1997 onder regie van Ian Roberts en Etienne de Villiers. Weer in Engels teenoor Gavin van den Bergh, Juliana Venter, Tim Plewman e.a.

Arsenaal, deur Jan Scholtz, 2002, vervaardig deur Scholtz Films, regie: Jan Scholtz Saam met Ian Roberts, Elzette Maarschalk, Nic de Jager, Lieb Bester, Marcel van Heerden, Hans Strydom e.a.

Paradys, deur Paul C. Venter, 1998, vervaardig deur Eklips, regie: Danie Joubert. Hier is hy een van die hoofspelers saam met Anna-Mart van der Merwe, Lieb Bester, Jan Ellis, Antoinette Kellermann en Pierre Knoesen.

Onder draai die Duiwel rond, deur Chris Barnard, 1998, vervaardig deur Sonneblom Films onder spelleiding van Katinka Heyns. Saam met Marius Weyers, Marcel van Heerden, Ian Roberts, Michelle Botes, Grethe Fox, Susanne Beyers, e.a.

Samaritaan, deur Paul C. Venter, 1999, vervaardig deur Eklips, regie: Marikie Longhurst.

Hier speel hy die hoofrol van die befoeterde speurder wat sy eie broer moet vang, teenoor Anna-Mart van der Merwe, Pierre Knoesen, Marcel van Heerden, Henrietta Gryffenberg, Chris Chameleon, Susanne Beyers, e.a.

Plek van die Vleisvreters, 2004, vervaardig vir Kyknet, Regie Gerrit Schoonhoven. Die verhaal van drie broers op ‘n wildsplaas. Hy speel een van die hoofrolle teenoor Hans Strydom, Tertius Meintjies, Anrich Herbst, Dirk Stoltz e.a..

Hart van Staal, 2005, vervaardig deur Westel vir Kyknet, regie: Willie Esterhuizen. Hy vertolk die hoofrol, Willie Brand, in hierdie telenovella teenoor Susanne Beyers, Anrich Herbst, Lizz Meiring, Johan van der Merwe e.a.

7de Laan, deur Danie Odendaal, 2005 en 2006. As die sjarmante Tokkie, Emma se pa met ‘n duister verlede (en hede), kom krap hy dinge lelik deurmekaar in die Laan

Dryfsand, deur P.G du Plessis, 2007, vervaardig deur Krisan produksies onder regie van Koos Roets. Richard speel die hoofrol in hierdie spanningsreeks. Teenoor Frank Opperman, Frantz Dobrowsky, Therese Benade, Francois Stemmet en andere.

Andries Plak, deur P.G. du Plessis, 2007 vir SABC2, regie Koos Roets.

In die sitcom speel hy die naamrol teenoor Fezile Mpela, Alvin Bruinders, Elize Cawood e.a.

Riemvasmaak, deur Peter en Margaret Goldsmid, 2008, vir SABC2, onder regie van Peter Goldsmid.

Richard speel die rol van die kommissaris van bantoesake wat die mense van Riemvasmaak moet verwyder van hulle woonplek.

Die Lewe is ‘n Grenshotel, saam met Hennie Aucamp, 1979, Windhoek en toer deur Namibia.

Hy toonset verskeie tekste van Hennie Aucamp vir die uiters gewilde produksie, wat onder meer opgevoer word by ‘n aantal boskampe in militêre gebiede.

Double Trouble, saam met Ian Ferguson en Robert Mohr, 1980, Pretoria en Johannesburg (TRUK).

Hy komponeer die musiek vir die stuk en speel die dubbele hoofrol daarin saam met o.a. Johan Engelbrecht, Riana Wilkens en Laurence Lurie.

Ballade vir ‘n Enkeling, 1986, SAUK TV. Dit was sy eerste deurbraak tot die gewilde musiekmark.

Hy skryf en sing die temalied vir die gewilde reeks, en die klankbaan wat hy saam met Louis van Rensburg versorg, bereik goue status.

Saam is hulle ook verantwoordelik vir die klankbaan van die tweede reeks.

Vanaf 1987 werk hy saam met Lochner de Kock, en skryf hulle die hoogs populêre “Sleutelgat Revue”, wat verskeie kere landwyd opgevoer word.

Met spelers wat wissel van Casper de Vries tot Elzabe Zietsman, en Surendran Reddy. In 1990 word hulle eerste album, “Tussen Treine” vrygestel, en bereik intussen goue status.

Vuurklip, 1998 Hulle tweede album onder die musikale regie van Didi Kriel word benoem vir ‘n SAMA toekenning in 1998.

Dorsland, 2001 Hulle derde album word vrygestel in Maart 2001. En verskeie songs van die album word benoem vir die “Geraas” toekennings. Hy skryf die titelsnit saam met Andre Swiegers.

Songs uit my binnesak, 2005 Sy eerste solo album, met Anneke Visagie en Karen Wessels, wat hy in noue samewerking met Andrew Roos produseer. Die album word genomineer vir ‘n Vonk toekenning as beste Afrikaanse album van die jaar.

Een van die snitte, “Engelliedjie” word as titelsnit vir die TV-reeks, Hart van Staal.

Doringdraad, 2000, 2001 Richard skryf woorde en musiek vir ‘n volwaardige kabaret, “Doringdraad” wat hy onder groot kontroversie vir vol huise opvoer in Potchefstroom (Aardklopfees).

En Oudtshoorn (Klein Karoo Kunstefees), en later, Upington (Kalahari kuierfees), met Karen Wessels en Ani K onder musikale leiding van Andrew Roos.

Songs uit my Binnesak, 2003 By die Klein Karoo Nasionale Kunstefees doen hy ‘n konsert met nuwe songs, vertalings. Van o.a. Herman van Veen en Edwin Schimscheimer, vertellings en duette, met ‘n 5 stuk orkes as deel van die hooffees.

Die vier musikante/songwriters van die titel is Anton Goosen, Piet Botha, Andre Swiegers en Richard van der Westhuizen. 

In 2004 speel hulle die eerste keer voor ‘n uitverkoopte verhoor in die Sand du Plessis teater in Bloemfontein tydens die Volksbladfees, en in 2005 weer voor volgepakte sale in Oudtshoorn by die Klein Karoo Nasionale Kunstefees.

Vir die afgelope sowat vyftien jaar is hy verantwoordelik vir meeste van die Afrikaanse lirieke en musiekopnames van liedjies op oorgeklankte programme vir SABC. 

Hy was ook musiekregisseur vir die plaaslike weergawe van Sesame Street vir die SABC. In 1995 en 1996 word hy benoem vir ‘n Artes toekenning vir spel in, en regie van oorgeklankte programme.

Hy is ook ‘n bedrywige radiospeler, en word tweekeer benoem vir ‘n Artes toekenning vir spel in Afrikaanse radiodramas, in 1994 en 1995.

Suid Afrikaanse Kunstenaars

Blue Division
On Stage logo
Musiekhuis